Metaal (sterrekunde)

Die term metaal word in die astronomie in ’n ruimer sin gebruik as in chemie of in die daaglikse taalgebruik: Daarmee word bedoel alle ander elemente as waterstof en helium.

Aangesien sterre, wat die grootste deel van die sigbare heelal uitmaak, hoofsaaklik uit waterstof en helium bestaan, gebruik sterrekundiges die term "metaal" om al die ander elemente gesamentlik te beskryf.[1]

Die bolswerm M80. Sterre in bolswerms is hoofsaaklik ouer, metaalarm lede van Populasie II.

Sterre met ’n relatief groot hoeveelheid koolstof, stikstof, suurstof en neon word byvoorbeeld metaalryke sterre genoem in sterrekundige terme, hoewel dié elemente nie in chemie metale is nie.

Die teenwoordigheid van swaarder elemente is die gevolg van nukleosintese in die sterre, die teorie dat die meeste elemente in die heelal wat swaarder as waterstof en helium is (van hier af metale genoem), in die kern van sterre gevorm word. Mettertyd word die metale deur sterwinde en supernovas na omringende gebiede gevoer en die interstellêre medium word so verryk. Die materiaal word dan "herwin" vir die vorming van nuwe sterre. ’n Mens kan hieruit aflei dat die ouer generasie sterre, wat in die metaalarm vroeë heelal gevorm het, gewoonlik minder metale bevat as jonger sterre, wat in ’n metaalryker heelal gevorm het.

Waargenome veranderings in die chemiese samestelling van verskeie soorte sterre, wat op spektraaleienskappe gebaseer en later aan metaalinhoud toegeskryf is, het die sterrekundige Walter Baade in 1944 laat voorstel dat twee verskillende soorte popolasies sterre voorkom.[2] Dit het bekend geword as Populasie I- (metaalryk) en Populasie II (metaalarm)-sterre. ’n Derde populasie sterre, bekend as Populasie III, is in 1978 ingevoer.[3][4][5] Hierdie uiters metaalarm sterre het teoreties heel eerste in die heelal gevorm.

  1. John C. Martin. "What we learn from a star's metal content". New Analysis RR Lyrae Kinematics in the Solar Neighborhood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2016. Besoek op 7 September 2005.
  2. W. Baade (1944). "The Resolution of Messier 32, NGC 205, and the Central Region of the Andromeda Nebula". Astrophysical Journal. 100: 121–146. Bibcode:1944ApJ...100..137B. doi:10.1086/144650.
  3. M. J. Rees (1978). "Origin of pregalactic microwave background". Nature. 275 (5675): 35–37. Bibcode:1978Natur.275...35R. doi:10.1038/275035a0.
  4. S. D. M. White; M. J. Rees (1978). "Core condensation in heavy halos - A two-stage theory for galaxy formation and clustering". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 183 (3): 341–358. Bibcode:1978MNRAS.183..341W. doi:10.1093/mnras/183.3.341.
  5. J. L. Puget; J. Heyvaerts (1980). "Population III stars and the shape of the cosmological black body radiation". Astronomy and Astrophysics. 83: L10–L12. Bibcode:1980A&A....83L..10P.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy